
|
Die naam "fennec" is afgelei van ... die Arabiese woord “fenek” wat “pelsdraend” beteken, en hierdie klein, harige diertjies is nie net die wêreld se kleinste vos nie, maar ook die kleinste van alle wilde hondagtiges. Hulle het egter die grootste ore (15 cm) in verhouding tot liggaamsgrootte van enige roofdier. Ironies, in Afrika kom die wêreld se kleinste vos, die fennek, regdeur die wêreld se grootste woestyn, die Saharawoestyn, voor.
|
Hierdie geheimsinnig, naglewende vosse is sandkleurig met ‘n kenmerkende swartpuntstert en is volmaak aangepas vir lewe in ‘n fel, dorre omgewing. Hul pels versmelt perfek met die woestynomgewing, weerkaats sonlig gedurende die hitte van die dag en behou hitte snags. Die voetsole van ‘n fennek is welig met pels bedek, nie net om dit te beskerm wanneer daar op warm woestynsand gehardloop word nie, maar help ook om stil oor die duine te beweeg en nie in die sand weg te sak nie.
Fennekvosse het uitstekende sintuie en hul sensitiewe skottelagtige ore maak dit vir hul moontlik om beweging van klein prooidiere selfs onder die woestynsand te hoor, terwyl dit ook help om liggaamstemperatuur te beheer. Die groot ore is ryklik met bloedvate naby die oppervlak voorsien en as koeler lug daaroor beweeg, word bie bloed aan die binnekant ook verkoel. Soortgelyk aan honde, het fennekse nie sweetkliere nie en buiten vir die verkoelingsisteem in hul ore, hyg hulle ook om koel te bly. Ten einde te oorleef in so sulke uiterste hitte, moet hierdie vosse ‘n streng tydrooster volg: kossoek meestal snags of vroegoggend terwyl die hitte van die dag ondergronds in hul koel gate spandeer word.
Fennekse is ware vosse en dus vinnig, nuuskierig, baie sosiaal en territoriaal. Hulle leef in familiegroepe van tot 10 diere, gewoonlik in ‘n permanente ondergrondse skuilplek. Territoriums word met uriene gereukmerk, veral in die paarseisoen. Mannetjies help om kleintjies groot te maak deur wag te staan en kos na die skuiling te bring, maar gaan nie binne, aangesien wyfies aggressief en beskermend is wanneer kleintjies gesoog word. Mense is hul grootste bedreiging aangesien hulle fennekse vir hul pels jag en ook vang en verkoop aan die steeds toenemende troeteldiermark. Ongelukkig het hierdie unieke en volmaak aangepaste woestynvosse van Afrika, gewilde troeteldiere in veral die VSA, Kanada en Japan geword.
|