Beide mannetjies en wyfies kan brul (hoorbaar tot sovêr as 8 km), en beide geslagte verdedig ook die trop se gebied. Slegs volwasse mannetjies het egter maanhare (± 16 cm lank), wat leeus die spesie met die grootste geslagsdimorfisme in enige kat of enige ander karnivoor maak. Die maanhare verdonker met ouderdom en spanning weens ‘n gebrek aan voedsel of beserings, is gewoonlik die oorsaak vir die verlies van maanhare by volwasse mannetjies. Mannetjies van die Senegalese leeu (P. l. senegalensis) van Wes-Afrika het feitlik geen maanhare nie terwyl die berugte mensvreter-leeus van Tsavo in Oos-Afrka, almal maanhaarlose leeumannetjies was. Alhoewel die leeu as Afrika se grootste mensvreter beskou word, sal ‘n leeu ‘n mens meestal net aanval indien die leeu honger is, uit vrees of om die welpies te beskerm. Ten einde kompetisie te verminder, byt leeus altyd die onbewaakte kleintjies van ander predatore soos luiperds, jagluiperds en hiënas dood, maar eet hulle nie altyd nie.
Leeus, tiere, luiperds en jaguars (genus Panthera) is algemeen bekend as “groot katte”, hoofsaaklik weens hul groter liggaamsgrootte en hul vermoë om te kan brul (onverbeende en elastiese suspensorium laat die stemkas vrylik beweeg). ‘n Trop leeus kan tot 40 lede hê, insliutend 2 tot 18 nouverwante wyfies plus hul welpies en tot 7 territoriale mannetjies. Aangesien leeus eersteklas swerwers is, word troplede meestal alleen of in klein subgroepies van 3 tot 5 leeus gesien. Alhoewel hulle dikwels in daglig beweeg of jag, rus of slaap hierdie groot katte vir tot 16 ure per dag en is hulle meestal snags aktief (± 88% van alle suksesvolle jagpogings vind snags plaas). Hulle is bedrewe en baie slim jagters met ‘n merkwaardige vermoë om prooigedrag te voorspel. Leeuwyfies eerder as mannetjies doen gewoonlik die jagwerk aangesien wyfies ligter, kleiner, vinniger en sonder opvallende maanhare is. Hierdie opportunistiese predatore sal bykans enige prooi eet, gewillig aas vreet al is dit reeds vrot en volwassenes sal tot 25% van hul eie massa ((± 50 kg) in een maal verslind. Buiten vir hiëna-geluide, hou leeus dikwels aasvoëls dop om hulle na ‘n moonlike maal te lei en in sommige streke, is tot 80% van alle karkasse waaraan leeus vreet, deur hiënas gevang en gedood. Wanneer mannetjies wel jag, is buffels meestal die voorkeur prooispesie want hulle kan vasgekeer en oorweldig word sonder om nagejaag te word. Horingagtige papille op die tong word gebruik om vleis vanaf bene en deur die vel van prooi te skraap; water op te lek en om parasiete tydens pelsversorging te verwyder. Leeus is goeie swemmers en kan ook boomklim.
Alle leeus het kolle. Welpies word met kolle gebore en alhoewel vaag, bly die kolle in volwassenes behoue. Die rangskikking van die swart snorbaardspikkels op ‘n leeu se gesig is net so uniek soos vingerafdrukke by mense. Hulle is die enigste grootkat-spesie met ‘n haarklossie op die punt van die stert en dit verberg ‘n horingagtige nael of uitsteeksel. Leeus het die langste dragtyd van alle katte en is ook die katspesie waar welpiemoord (meestal deur nuwe dominante mannetjies) algemeen en wyd voorkom. Witleeus, inheems tot suiderlike Afrika, is genetiese mutasies en nie albino’s nie omdat hul oë gepigmenteerd is en nie pienk-rooi nie. Die normale swart snorbaardspikkels, stertklossie, neus en lippe is ligter in hierdie skaars leeus en hul voetkussinkies is pienkerig en nie donker grys nie.
Alhoewel leeus voorheen in die natuur in Europa en Noord-Afrika voorgekom het, is hulle nou uitgesterf in die streke terwyl die Asiatiese leeu tans deur uitsterwing in die natuur bedreig word. In Afrika word die grootste konsentrasie van leeus in die natuur in die Ngorogoro-kraterstreek van die Serengeti in Tanzanië aangetref. Sedert 1950 het die aantal wilde leeus in Afrika met meer as 80% afgeneem, hoofsaaklik weens die mens se aktiwiteiete.
ANDER NAME: Lion; Löwe; Tau; Shumba; Simba; Ndau; Ngonyama; Xamm; Kibaax. |