Hulle verdedig hulself ook met dreigende vertonings en gepaardgaande gegrom en geknor waarna hulle blitsvinnig in die veiligheid van die water vlug. Otters is egter net so dapper soos ratels, net vinniger en meer soepel – veral in water. Groototters sal maklik aanval indien bedreigd, veral wyfies met kleintjies, en hierdie otters is berug daarvoor om aanvallers onder die water te dompel en hulle selfs te verdrink. Alhoewel otters dikwels as troeteldiere oorweeg of aangehou word, is dit geensins aan te beveel nie aangesien hierdie intelligente diere gedugte en goed toegeruste roofdiere is wat ernstige skade kan toedien indien onder spanning, bedreigd of in ‘n jaloerse woedeaanval.
Groototters is die wêreld se derde grootste otter (rekordmassa: 34 kg), die grootste otter in Afrika en aansienlik groter as die kleinotter. Hulle verskil ook van laasgenoemde daarin dat hulle nie die roomkleurig gespikkelde borsvlekke het nie; feitlik ongewebde en naellose voorpote het; hul benutting van beide vars- en soutwaterhabitatte (riviermondings en die oseaan); is meer amfibies en sal verskuif indien ‘n stroom opdroog of voedsel skaars begin raak. Hulle is minder geneig om vis te eet en omdat hulle nie hul monde nie maar eerder hul sensitiewe en manipulerende hande gebruik om prooi mee te vang, kan hulle voedsel in die water vashou en eet sonder om aan wal te gaan. Uiters growwe vel op die handpalms en vingers stel groototters in staat om glibberige prooi soos vis en amfibieë stewig vas te hou terwyl die “ongewebde” vingers perfek aangepas is om rond te voel en prooi vas te gryp. Die hoofdis op hul spyskaart is krappe, gevolg in volgorde van voorkeur deur paddas, vis, insekte, voëls, reptiele, klein soogdiere en weekdiere. Groot visse en paddas word kop eerste geëet en nie andersom soos die kleinotter dit doen nie. Krappe word karapaks en al opgekou sonder om enige afvalstukke agter te laat. Bene van barbers, visskubbe en krapdoppe is egter duidelik sigbaar in die faeces van groototters. Mossels met sterk doppe word geopen deur dit teen ‘n harde oppervlak stukkend te gooi. Na elke maal was hierdie netjiese otter sy gesig en pote in die water.
Al hul sintuie is goed ontwikkel met ‘n uitsonderlike skerp reukvermoë. Alhoewel otters klaarblyklik ‘n uitstekende sig onderwater het, selfs in troebel water, wil dit voorkom asof hul sig op land minder skerp is aangesien hulle dikwels sukkel om stilstaande voorwerpe, selfs oor ‘n kort afstand, te onderskei. Groototters is territoriaal, word gewoonlik alleen, in pare of klein groepies gesien en, soos meeste ander otters, is hulle baie nuuskierig asook speelvol en gebruik selfs hul stert om voorwerpe mee op te skep. Hulle is hoofsaaklik in die laat agtermiddag (15:00 tot sonsondergang), vroeg oggend net na sonopkoms en soms snags, aktief. Habitatverlies en –vernietiging weens toenemende menslike bevolkings is hierdie otter se belangrikste bedreigings. Verder word hulle ook gejag vir hul pels en medisinale doeleindes; deur boere vervolg weens hul neiging om snags pluimvee te vang; en doodgemaak omdat hulle met die mens meeding vir die beskikbare visbronne.
ANDER NAME: African clawless otter; Cape clawless otter; Loutre à joules blanches; Kap-Fingerotter; Fisi maji kubwa; Intini; Qibi; Lenyebi; Mbiti; Ntsini; Mbao; Utungwa. |