Fotogallery Diere Kontak ons
Waarom is dit belangrik
Soogdiere van Afrika
INLEIDING deur dr. MJ Grundlingh ("Soogdiere van Afrika - Ontdek 101 spesies") ...
... Hierdie boek is geskep ter viering van die diereryk – ’n viering van die wonderlike en ongelooflike wesens met wie ons hierdie planeet deel, opgedra aan hul spesiale en fassinerende lewens wat dikwels onopgemerk deur ons, die enigste spesie wat die grootse omvang van hierdie ongelooflike biodiversiteit kan waardeer. Sedert die begin van tyd is die mens gefassineer deur diere – ons hou hulle as troeteldiere en metgeselle aan, ons maak hul mak en leer hulle, hulle beskerm ons en werk vir ons, ons hou hul as plaasdiere aan, ons jag hulle, ons verkoop hulle, ons neem hul velle en dra dit as klere, ons eet hulle, en hulle genereer vir ons geld, maar steeds ken ons hulle nie.

Ons weet nie dat die meeste soogdierspesies komplekse sosiale lewens met ingewikkelde onderlinge verhoudings het nie, en dat sommige spesies, soos dwergmuishonde, se verkose leiers nie die sterkste of mees aggressiewe lede in die gemmenskap is nie, eerder die een wat die meeste vir die ander omgee en leiers is wat die veiligheid en welstand van die groep bo eie gewin stel. Ons besef nie dat in baie dieregemeenskappe, die lede gewillig is om hul eie lewens vir die veiligheid van die groep op te offer nie. Ons weet nie dat verskeie soogdierspesies uitsonderlike kulture het nie – ’n verskynsel wat ons as uniek tot slegs die mensspesie opgeëis het. Kultuur, soos gedefinieer deur mense, sluit in tradisies, taal, musiek, en die onderskeie vaardighede van die verskillende gemeenskappe – alles baie prominent in ’n groot aantal “nie-mensdom” gemeenskappe. In alle primaat-gemeenskappe waar dit ondersoek is, is kultuur soos gedefinieer en opgeëis deur ons, beslis teenwoordig. Kulturele oorlewering van aangeleerde gedrag, soos eetgewoontes en -tegnieke, asook die gebruik van gereedskap en taal, vind algemeen van generasie tot generasie plaas. In sekere van die bestudeerde primate, soos sjimpansees, is meer as 39 kulturele variasies geïdentifiseer. Ons waardeer nie die feit dat meeste soogdierspesies, vanaf die kleinste knaagdiertjie tot die reuse olifant, ’n wye en unieke repertoire van verskillende vokalisasies het wat as ’n komplekse taal dien – ’n taal wat dikwels nie eens hoorbaar vir die menslike oor is nie.

Soos alle ander lewende wesens, is ons as mense net so deel van hierdie natuurlike wêreld en sy biodiversiteit. Ons besef egter nie hoeveel diere en mense werkilik ooreenstem nie. Trouens, ons erken dikwels nie eens dat ons deel van die diereryk is nie. Ongelukkig het die steeds toenemende, wêreldwye bevolkingsontploffing van mense, ’n toename in die vyandigheid tussen mens en dier, wat vir dieselfde kwynende hulpmiddels moet meeding, teweegebring. Verder vervreem ons as mense, onsself toenemend van die natuur weens ons verkose kommersiële en materialistiese leefwyse, ’n kunsmatige leefstyl wat baie van ons leeg, en ontneem van ’n gevoel van samehorigheid, laat. Trouens, indien ons nie stop en die tipe kultuur wat ons besig is om in die menslike gemeenskap te skep, heroorweeg nie, mag ons as ’n spesie nie voorbereid wees vir die vernietigende gevolge daarvan nie. Dit is ’n feit dat die spesifieke omgewing waarin ’n mens opgroei – veral die gesindhede en dade van familie, vriende, onderwysers, sosiale ikone en gemeenskapleiers - grotendeels bepaal of ’n individu ander lewende wesens, insluitend sy medemens, sal respekteer, beskerm, ignoreer of mishandel.

Deur die natuurlike nuuskierigheid van mense aan te moedig om meer te wil weet van die diere waarmee hul saamleef, word die mens nie net aangespoor om die natuur en ons as mens se verwantskap tot dit te verstaan nie, maar dit kweek ook ’n gevoel van verwondering en genot asook ’n ooreenstemmende besef van samehorigheid, besorgdheid en bewaring. Indien die mensspesie wil oorleef en voortvarend wil wees tesame met al die ander lewende wesens op aarde, moet ons versigtig wees dat ons tegnologie en gierigheid nie ons intellek en deernis vir ander, oorskadu nie. Dit is tyd dat ons besef dat die wêreld se mees gevorderde tegnologie nie een piepklein miertjie kan skep of vervang nie. Trouens, die wêreld se gesamentlike monetêre rykdom is nie genoeg om te betaal vir die koste verbonde daaraan om die bestuiwingsdiens wat insekte gratis verrig, te vervang nie. Wat ons wel kan doen, is om ons vernietigende aanslag op die natuur te staak, om die reg van lewe vir alle lewende wesens te erken, en om ons eie spesie se uitermatige bevolkingsontploffing te beheer. Dit is ’n bekende feit dat die aarde nagenoeg drie biljoen mense kan onderhou – tans is daar reeds meer as ses biljoen mense, met ’n geraamde tien tot twaalf biljoen mense teen 2050! Dit demonstreer weereens dat die mens die enigste spesie is wat doelbewus besig is om sy eie ondergang te bewerkstellig.

Afrika is sonder twyfel, dié kontinent met die grootste biodiversiteit en kan spog met ’n rykdom van verskillende soogdierspesies wat die savanne, woude en woestyne van hierdie pragtige kontinent deurkruis. Ongelukkig is dit ook die kontinent waar menslike nedersetting en gevolglike besoedeling, habitatvernietiging, oorloë, jag, wildstropery en handel in bosvleis, steeds meer en meer spesies bedreigd en selfs totaal uitgewis in die natuur laat. Gedurende die afgelope 80 jaar is die meeste van Afrika se groot soogdiere se getalle met tussen 80 en 96% verminder – direk as gevolg van die mens se bedrywighede! Dit is ook bewys dat kennis van ons omgewing en mede-spesies lei tot respek, besorgdheid en ontferming, maar net so is die omgekeerde ook waar bewys. Die doel van hierdie boek is dus om deur middel van die informatiewe teks en unieke visuele aanbieding van slegs 101 van Afrika se talle soogdierspesies, die “klein vonkie” te verskaf wat sal bydra tot ’n “magtige vlam” van ingeligte, geïnspireerde en gemotiveerde natuurliefhebbers en -bewaarders. Let asseblief daarop dat die insekte wat op elke bladsy verskyn, almal in Afrika voorkom en bloot dien om Afrika se biodiversiteit te beklemtoon en om meer estetiese waarde aan elke bladsy te verleen, en daar is nie noodwendig ’n direkte assosiasie met die spesifieke soogdierspesie op die bladsy nie. Alhoewel taksonomie neig om kontroversieel te wees en gereeld te verander namate meer inligting bekend word, is daar gepoog om die nuutste gepubliseerde klassifikasie te gebruik. Mag die inhoud van hierdie boek, verwondering en plesier aan u lewe verskaf.  

As jy dit nie kan maak nie, moenie dit breek nie! Geniet net die wonderwerk!

Gaan lees gerus verder oor die ongelooflike 101 Afrika-soogdiere in ...

 

SOOGDIERE van AFRIKA
"SOOGDIERE VAN AFRIKA"
Hierdie pragtig geïllustreerde boek (224 bladsye, grootte: 280 x 215 x 15 mm) gaan uitsluitlik oor die ontdekking van ‘n 101 van Afrika se verstommende soogdierspesies - insluitend die fennek.
Dit verskil van enige ander bestaande diereboek daarin dat daar gefokus word op die verskaffing van soveel moontlike unieke inligting oor elke spesie in ‘n kompakte, tog uiters informatiewe en puik geïllustreerde wyse. Ander ingeslote inligting sluit in: vergelykende tabelle oor al 101 spesies, rekords gehou deur alle soogdiere van Afrika, verspreidingskaarte, en nog vele meer. Besigtig gerus ons "BLOG" vir nog meer ...
meer inligting
Wild-en-Wakker
Wild-en-Wakker se Internet-Winkel:
besoek gerus ons "aanlyn-winkel" vir nog meer "natuur-goeters". Alle wins met die verkoop van hierdie produkte word weer vir verdere Bewaringsopvoeding aangewend (slim, nê ..!).
gaan kyk gerus
DJANI Wildlife Projects
Ons "INGELSE webblad":
vir die outjies wat "Ingels" ook kan verstaan, gaan loer gerus op die Engelse weergawe van ons webblad.
gaan bekyk ons in "INGELS"

 

 
Projekte:

Al ons projekte is primêr gefokus op "BEWARING deur OPVOEDING" aangesien ingeligde mense meer bewaringsbewuste mense is.


AANBIEDINGE
SKOLE
BESIGHEIDSEKTOR
DIEREKAARTE
DIERELEWE BOEKE
ANDER PRODUKTE

spacer

Nog diere:

Fennek  
Fennek

Groototter
Groototter   

Koning LEEU ... Leeu

Wild-en-Wakker
Soek iets ...
Kies webblad om in te soek:


 

  Tuisblad Span Diere Kontak ons  
Kopiereg © 2010-2011. DJANI Wildlife Projects. Alle regte voorbehou.

Webblad ontwerp en gehuisves deur: DJANI Wildlife